ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die moddergemors binne die Makhado Munisipaliteit se stortingsterrein verhoed ook toegang aan die munisipaliteit. 

Munisipaliteit weer in spervuur oor gemors

Date: 09 January 2015 By: Andries van Zyl

Die Makhado Munisipaliteit se stortingsterrein buite Louis Trichardt is weereens die oorsaak van groot frustrasie en ongelukkigheid.

Vir inwoners in die onmiddellike omgewing en dié wat gebruik maak van die Vondelingpad om by hul plase en kleinhoewes te kom, is die situasie onuithoudbaar. Die goeie reën gedurende Desember het die stortingsterrein totaal ontoeganklik gemaak en daartoe aanleiding gegee dat almal begin het om hul vullis langs die Vondelingpad te stort. Teen Dinsdag was daar, vir bykans ‘n halwe kilometer, slegs enkelbaan verkeer moontlik op die pad, aangesien rommel die grootste deel van die pad versper het. Tydens die koerant se besoek aan die terrein het een inwoner, wat in die vervoerbedryf is, gestop en gesê hulle het hul vragmotors verbied om die pad te ry vanweë kroniese pap wiele wat daar opgedoen word. “Ek wonder of die munisipaliteit ons daarvoor gaan vergoed,” was die inwoner se vraag.

Nog ‘n inwoner, mev. Marietjie Barkhuizen, het die situasie as totaal onaanvaarbaar beskryf. Sy het familie wat naby die stortingterrein bly. “Nee man, mens kan nie eers kos maak nie, want dit is net vlieë. Mens kan nie eers die boorgat gebruik nie, want die vrot syferwater vanaf die asgat het die ondergrondse watertafel besoedel,” het Barkhuizen gesê.

Die munisipale stortingsterrein was die afgelope paar jaar al herhaaldelik in die nuus oor swak bestuur en ernstige vraagtekens oor die munisipaliteit se onvermoë om aan die permitvoorwaardes vir die bedryf van die stortingsterrein te voldoen. Inwoners in die onmiddellike omgewing klou egter vas aan die hoop dat hul kopseer binnekort iets van die verlede sal wees met die munisipaliteit se beplande verskuiwing van die stortingsterrein na ‘n nuwe perseel. Die nuwe terrein is ongeveer 6 km buite die dorp, verby die munisipale vliegveld – tussen die Soutpansberg Skietklub en Wearne Crushers – op ‘n gedeelte van die plaas Rietvly.  Dié proses sloer egter reeds ‘n geruime tyd.

Die huidige situasie by die terrein is egter nie uniek nie. Soortgelyke gevalle het vorige jare ontstaan, veral na afloop van swaar reën. Dit is weliswaar ook ‘n kopseer vir die munisipaliteit. Die moddergemors binne die stortingsterrein verhoed ook toegang aan die munisipaliteit. Dinsdagoggend was daar nog ‘n groot dam water by die enigste ingang na die terrein, met die munisipale stootskraper wat stewig in die modder vasgesit het.

Munisipale bestuurder mnr. Sakkie Mutshinyali het Dinsdag by navraag gesê hy is bewus van die situasie by die stortingsterrein. Alhoewel hy nog met verlof is, sê hy, monitor hy die situasie deurlopend. “Ek het reeds gister [Maandag] opdrag gegee dat ons stootskraper uit die modder gehaal moet word,” het Mutshinyali gesê. Die stootskraper, sê hy, is noodsaaklik aangesien hulle dit nodig het om vir die interim ‘n alternatiewe ingangspad na die stortingsterrein oop te stoot. “Sodra die stootskraper uit is en ons ‘n alternatiewe ingangspad gemaak het, sal ons dadelik begin om die rommel langs die Vondelingpad te verwyder,” het Mutshinyali gesê.

Mutshinyali het gesê hy het begrip vir inwoners se frustrasie en ook begrip vir inwoners wat hul rommel langs die pad aflaai vanweë die ontoeganklikheid van die stortingsterrein. Gewoonlik, het hy gesê, het hy sy personeel opdrag gegee om mense wat langs die pad buite die stortingsterrein vullis aflaai, te beboet.

Wat die oplaai van huishoudelike vullis in die dorp betref, het Mutshinyali gesê hierdie proses duur voort soos normaal. Hy het gesê hy is nie bewus daarvan dat vullis nie verwyder word nie, maar sou dit die geval wees, sou hy dadelik daarvan wou weet.

 
 
 

Viewed: 382

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Vir inwoners in die onmiddellike omgewing en dié wat gebruik maak van die Vondelingpad om by hul plase en kleinhoewes te kom, is die situasie onuithoudbaar. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT