ADVERTISEMENT:

 

 
 

Andries Louw is Hoërskool Louis Trichardt se toppresteerder nadat hy 7 onderskeidings verwerf in die 2014 matriek eindeksamen.

Triegies pronk breëbors met uitslae

Date: 09 January 2015 By: Isabel Venter

Matriekleerlinge van Hoërskool Louis Trichardt pronk breëbors – en met goeie rede.

Nie net het die klas van 2014 gewys dat hulle somme kan doen nie, hulle het ook nader gekom aan die skool se mikpunt van ‘n 100% slaagsyfer.

Die jaar het net vyf van die skool se 173 matrieks gedruip, wat ‘n 97,1% slaagsyfer opgelewer het. In vergelyking met 2013 se uitslae van 89,2% en 18 druipelinge was die skool se personeel verheug. “Ons is baie tevrede met die uitslae,” het die skool se waarnemende hoof, mnr. Theo Muller, Woensdag gesê. Hy het toe pas teruggekeer van die provinsiale prysuitdeling van die Departement van Basiese Onderwys wat Dinsdag in Polokwane aangebied is.

Hierdie jaar is Hoërskool Louis Trichardt ook aangewys as die 12de beste voormalige model C-skool in die provinsie. Dit is twee plekke beter as in 2013.

Verder spog die skool ook met ‘n 92,1% slaagsyfer vir wiskunde (wat 12 A-simbole insluit) en 82,1% vir wetenskap. Teen Woensdag was die skool nog besig om ‘n opsomming te maak van die matriekuitslae. Voorlopige syfers, het Muller bevestig, het gewys dat 2014 se matrieks gesamentlik spog met 165 A-simbole.  

Andries Louw is die skool se toppresteerder met sewe onderskeidings wat hy behaal in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, ingenieursgrafika en -ontwerp, wetenskap, biologie en besigheidstudies. Hy gaan ingenieurswese swot aan die Universiteit van Pretoria.

Kort op sy hakke was Payal Upadhyay met ses A-simbole. Hierdie slimkop behaal onderskeidings in Afrikaans eerste taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, biologie en wetenskap. Sy wil graag aktuariële wetenskap swot, want sy hou baie van wiskunde en rekeningkunde.

Talle van die skool se matrieks het vyf A-simbole behaal, maar teen druktyd is daar nog gewag op 'n finale naamlys van hierdie presteerders.

Buiten vir hul toppresteerders spog Hoërskool Louis Trichardt ook met ‘n 100% slaagsyfer in rekeningkunde, ekonomie, Engels eerste addisionele taal, wetenskap en wiskunde geletterdheid. In besigheidstudies slaag 97% van die matrikulante wat die vraestel afgelê het en 98,3% in geografie.

Ander skole in die streek wat spog met ‘n 100% matriek slaagsyfer is Hoërskool Eric Louw in Musina en die CVO Skool Zoutpansberg net buite Louis Trichardt. Mopane Sekondêr se matrieks lewer ‘n 88,7% slaagsyfer en Musina Sekondêr 68,3%. 

 
 
 

Viewed: 445

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Payal Upadhyay van Hoërskool Louis Trichardt spog met 6 A-simbole op haar matrieksertifikaat.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT