ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Gedeelte van die bouspan van Mthombeni Building Contractors wat besig is met die oprigting van die nuwe sekondêre skool in Tshikota. Die skool word opgerig op 'n perseel wat reeds 15 jaar gelede aan die departement beksikbaar gestel is by die ingang van Tshikota langs die Vivo gootpad.

Vyftien jaar later begin bouwerk eindelik

Date: 09 January 2015 By: Frans van der Merwe

Bouwerk aan die eerste fase vir die nuwe sekondêre skool in Tshikota buite Louis Trichardt is volstoom aan die gang.    

Die projekbestuurder, mnr. Johan le Grange van die kontrakteur Mthombeni Building Contractors, sê in die eerste fase word 12 klaskamers, ablusiegeriewe, administratiewe en aanverwante geriewe opgerig, terwyl daar in die volgende fases bykomende klaskamers en 'n veeldoelige saal opgerig sal word.

Die eerste fase sal na verwagting teen die einde van Mei/Julie voltooi kan word, afhangende van die reëntoestande. Bouwerk is aanvanklik onder meer deur reënweer in die wiele gery.

Die sekondêre skool word opgerig op grond wat deur die plaaslike munisipaliteit reeds 15 jaar gelede beskikbaar gestel is aan die onderwysdepartement. ‘n Tussen-departementele taakspan wat indertyd ondersoek ingestel het na die noodsaaklikheid van ‘n bykomende staatskool in Tshikota, het bevind dat die ruim perseel by die ingang van Tshikota langs die Vivo hoofpad die mees geskikte plek is vir die oprigting van ‘n bykomende sekondêre skool. Die bevinding is gemaak nadat die taakspan verskeie alternatiewe bekyk het.

Die ondersoek is destyds onderneem nadat ‘n ingrypende krisis by die bestaande Masedi-skool se strukture die soeklig fel gefokus het op die dringende behoefte aan opgradering by Tshikota en die oprigting van bykomende skoolgeriewe.

In daardie stadium was die voortbestaan van Masedi, die enigste skool in Tshikota, ernstig in die gedrang. Die skool het gebuk gegaan onder die tekort aan voldoende klaskamers in die skool, wat laer- en hoërskoolleerlinge gesamentlik moes bedien. Die skool was etlike jare sonder administratiewe geboue en sonder behoorlike toilette. Kinders moes twee strate oorsteek na die enigste beskikbare toilette op die terrein van die nabygeleë biersaal. Weens die gevaarlike en onsanitêre situasie en die verwaarlosing van die bestaande skoolgebou, is die geboue verklaar as ongeskik vir menslike bewoning. Die skool moes ‘n geruime tyd van tente gebruik maak, terwyl noodmaatreëls getref moes word deur die departement om dringende opgradering by Masedi aan te bring.                   

Die destydse Munisipale Oorgangsraad in Louis Trichardt het ‘n bedrag van R675 000 op ‘n rand-vir-rand grondslag aan die departement beskikbaar gestel vir die oprigting van ‘n nuwe skool in die snel-uitbreidende Tshikota. Die raad het toe ook besluit om die ruim perseel langs die Vivo pad te skenk vir die oprigting van ‘n nuwe skool.

Die teikendatum van Mei in 2015 vir die voltooiing van die nuwe skool kom nou presies 15 jaar nadat die plaaslike munisipaliteit sy aanbod gemaak het vir die skenking van die nodige perseel en sy geldelike bydrae vir die dringende behoefte aan ‘n nuwe skool.

 
 
 

Viewed: 169

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT