ADVERTISEMENT:

 

 
 

Te midde van 'n sopnat feesterrein en harde buie reën wat by tye uitgesak het, was die Geloftefeessaal volgepak tydens die jongste viering op 16 Desember. Oud en jonk het die verrigtinge gevolg.

Oormag word deur Almag in stryd ontmag

Date: 08 January 2015 By: Frans van der Merwe

Met die jaarlikse Gelofteviering op Versoeningsdag by Louis Trichardt het die klem sterk geval op die belangrikheid daarvan om opnuut erns te maak met die Woord van God – die Bybel.

Die feesspreker by die Gelofteviering by Schoemansdal op 16 Desember, mnr. Orion Theron, het gewys op Van Riebeeck se toewydingsgebed vanuit die  suidpunt van Afrika op 8 April 1652. Theron het gesê: “Van die eerste asemteug, nog in die voorbereiding van ons volk se geboorte … word die Almagtige Vader aangeroep, met die Woord van God, die Bybel, sentraal in hul lewens. Die  grondslag van hierdie Christelike lewensoortuiging was natuurlik die Statebybel.”

Die koms van die Franse Hugenote het gehelp om hierdie gereformeerde godsdiens aan die Kaap te versterk as die volk se Christelike karakter. Dit het verdere stukrag help verleen met die Bybel wat die Setlaars aan Jacobus Uys met die aanvang van die Groot Trek oorhandig het. “Ons volk se geboorte-uur was dus gedrenk in die gereformeerde godsdiens – met geen beskeidenheid vir ons Christelike oortuigings nie.”

“Die verloop van hul geloofslewe, die Groot Trek, veldslae, oorloë en konsentrasiekampe, getuig van die onderhandelbare geloof – en as ‘n hoogtepunt in ons geloofsgeskiedenis – Bloedrivier. ‘n Menslik onmoontlike taak en gebeurtenis word in die skaduwee van God se Hand wel moontlik. Die grondslag van hul geloof was gegrond in hul kennis van God. Deur oggend, middag en aand met die Woord van God te worstel en erns te maak, kom die Here en bied verlossing.”

Theron het ‘n gedetailleerde aanloop na en verloop van die veldslag by Bloedrivier gegee, waarin duidelik blyk die (menslik gesproke) onbegonne strafekspedisie teen ‘n duiselingwekkende oormag aan die kant van ‘n verraderlik, gruwelike, wreedaardige magsvergryp.

Retief, met 70 ongewapende manskappe en 30 werkers, word na die ondertekening van ‘n grondoordragtraktaat op 4  Februarie 1838 brutaal vermoor. Net na middernag op 17 Februarie 1838  word die trekke van die Liebenbergs, Rossouws en Bezuidenhoudts langs die Bloukransrivier en Moordspruit deur ‘n groot mag aangeval. Altesaam 41 mans, 56 vroue en 185 kinders word wreedaardig vermoor.

Die strafekspedisie wat uitloop op Bloedrivier begin met die aankoms van Andries Pretorius op 22 November, wat belewe word as die antwoord op die gebede van ‘n gedemoraliseerde trekkergemeenskap. Sy deeglikheid het niks aan toeval oorgelaat nie, en hy het sy volgelinge oortuig dat krag in eenheid lê. Die 64 waens was vergesel van 370 burgers, 100 werkers, 900 osse en naastenby 500 perde en elke man met minstens drie gewere. Die groep is in vyf kommando’s ingedeel, elk met sy eie kommandant.  Te midde van hierdie klein ekspedisie se deeglike voorbereidings ontstaan die begeerte om ‘n gelofte aan God te doen -  dié Gelofte wat vandag nog beskou word as die werklike deurslaggewende element in die bomenslike uitslag van die gedenkwaardige slag teen ‘n oormag van 36 regimente bestaande uit tussen 15 000 tot 30 000 – die grootste militêre Zoeloemag wat ooit saamgetrek is, selfs meer as wat Shaka kon oproep.  Ná drie stormlope deur die oormag, het dit wat van die oormag oorgebly het, op die vlug geslaan. Net Pretorius en twee van sy manskappe het ligte handwonde opgedoen.

Theron het gesê: “Êrens ná hierdie geboorte van ons volk en daaropvolgende geloofsdade en ingrypende wonderwerke van God, het ons volk weggedwaal na die wêreldse weë, ons op onsself begin staatmaak en beskeie geraak oor ons geloofsoortuiging.

“God het steeds ‘n doel met ons – laat ons versterk word in ons klein getalle hier vandag – want  waarlik, so leer die Woord van God, dat juis in klein getalle Sy naam grootgemaak word.”

Hy het verwys na vermindering van bywoongetalle en opgemerk: “Dit moet ons nie bang en bekommerd laat nie – elke dag is nou soos ‘n Bloedrivier in ons lewe! Leef in die kennis van God – Sy Woord en wees verseker – Hy doen groot wonders in min getalle – op Sy tyd!”

 

 
 
 

Viewed: 215

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

Bertus Otto (links agter) help Oom Danie Lourens (voor) onderweg na die kranslegging in die historiese begraafplaas by die Schoemansdalfeesterrein. Saam met hom is die egpaar Lordan en heel regs Riana Otto. Oom Danie was na 'n operasie in die rolstoel. Hy woon die fees die afgelope bykans 30 jaar getrou by en die afgelope 20 jaar behartig hy gereeld die kranslegging op die graf van mev. Josina Van Warmeloo, eertydse eggenote van Schoemansdal se eerste predikant van die Hervormde kerk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT