ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nekslag vir mynreus

Date: 18 December 2014 By: Isabel Venter

Besorgde boere en inwoners het die mynmaatskappy Coal of Africa Limited (CoAL) ‘n gevoelige slag toegedien toe hulle daarin kon slaag om ‘n interdik teen die maatskappy te bekom om hulle aktiwiteite in die Limpopo-vallei te stuit.

In terme van ‘n hooggeregshofbevel wat die Vhembe Mineral Resources Stakeholders Forum (VMRSF) bekom het, mag CoAL nie met sy beoogde Makhado-mynprojek begin nie. Die mynmaatskappy moet eers ‘n omvattende omgewingsimpakstudie doen, het die Hooggeregshof in Pretoria op Dinsdag, 9 Desember, beslis.

VMRSF was die eerste respondent in die aansoek, en is ondersteun deur die Makhado Aksiegroep en die Mudimeli-gemeenskap. CoAL beplan om die Mudimelies te verskuif indien daar voortgegaan sal word met die Makhado-myn.

Waarnemende regter Kobus Strijdom het hulle gelyk gegee dat CoAL ‘n omvattende streekswye studie moet doen om te bepaal wat die impak van al sy voorgenome myne in die Limpopo-vallei op die omgewing en bestaande ekonomiese aktiwiteite sal wees.

Die oorkoepelende aansoek sluit ook ‘n hersieningsaansoek teen die Limpopo Departement van Ekonomiese Sake, Omgewing en Ontwikkeling (LEDET) se omgewingsgoedkeuring van CoAL se Makhado-projek in. Ingevolge die hofbevel mag CoAL nie sy voorgenome myn begin bou, voordat die hersieningsaansoek afgehandel is nie.

Die aansoek het ook ‘n stokkie gesteek voor CoAL se voorgenome plan om ‘n 22km-lange spoorlyn, paaie en groot opgaardamme in die omgewing van die Makhado-myn te begin bou.

CoAL het vier jaar gelede, onder sy vorige bestuur, homself die woede van omgewingsgroepe opgehaal toe daar besluit is om die Vele-steenkoolmyn op die rand van die Mapungubwe Erfenisgebied te bou. ‘n Skikking is destyds bereik nadat organisasies hulle ook na die howe gewend het, en CoAL ‘n boete moes betaal. Die uitslag was dat ‘n gesamentlike komitee, bestaande uit verskillende rolspelers van die verskillende regeringsdepartemente, op die been gebring is om te verseker CoAL hou by hul beloftes.

In terme van die bevel mag CoAL met geen aktiwiteite begin wat ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet as gelyste aktiwiteite beskou word nie.

Mnr. Christo Reeders, regsverteenwoordiger van die omgewingsgroepe, het gesê ‘n slag is vir omgewingsgeregtigheid geslaan.

Intussen het CoAL bevestig dat hulle nie vooraf geweet het van die interdik aansoek nie, en derhalwe nie op die stukke kon antwoord nie. Hulle sal wel saam met die onderskeie staatsdepartemente werk om die interdik tersyde gestel te kry.  

CoAL se hoofuitvoerende beampte, mnr. David Brown, het bygevoeg dat ‘n streekswye impakstudie van die myn verwag om die gevolge te bewys as al hul beoogde myne in die streek gelyktydig opgerig word. Dit, het Brown gesê, sal nooit so gebeur dat al hulle myne op een slag ontwikkel sal word nie.

CoAL het in die afgelope twee jaar geweldige finansiële druk ervaar, waarop Brown ‘n omkeerstrategie implementeer het en kostes tot op die been gesnoei het. Tans is CoAL besig om sy fondse aan te vul deur die plasing van nuwe aandele. 

 
 
 

Viewed: 2592

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT