ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die DBV (Dierebeskermingsvereniging) het op Dinsdag, 25 November, hierdie drie honde gekry agter 'n inkopiesentrum op Musina. Hulle ondersoek het bevind dat die honde nie aangehou word vir slagdoeleindes nie. Foto verskaf.

Honde nie vir eet nie

Date: 05 December 2014 By: Isabel Venter

Gerugte dat ‘n winkel in ‘n gewilde inkopiesentrum in Musina glo honde aangehou en verkoop het om te eet, het die afgelope week groot ontsteltenis onder inwoners veroorsaak.

Die gerugte het die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) genoop om indringend ondersoek in te stel. Na bewering het die winkel die honde in hokke op hul perseel aangehou. Foto’s van die honde in die hokke het egter soos ‘n veldbrand in die sosiale media versprei.

Plaaslike DBV-inspekteur mnr. Lawrence Khodobo het vandeesweek gesê mense van so ver as Pretoria het geskakel om uit te vind wat presies in Musina aan die gebeur is.

Alhoewel Musina nie onder die plaaslike DBV se beheer val nie, het Khodobo persoonlik op 25 November deurgery en die sentrum in Musina besoek om ondersoek in te stel. Dit ná ‘n oproep van ‘n besorgde inwoner. Die klagte was dat daar nege honde in hokke ingehou word om geslag te word vir hulle vleis.

By sy aankoms in Musina kon Khodobo net drie honde by die winkel in hokke kry. Weens die ernstige aard van die klag is hy vergesel deur die polisie om ook ondersoek in te stel. Die honde, twee Labradors en een Husky-kruising, was toegemaak in ‘n sinkstruktuur aan die agterkant van die inkopiesentrum.

Khodobo het by navraag uitgevind dat die honde elkeen aan ‘n verskillende eienaar behoort. Een van die honde se eienaars het aan Khodobo gesê dat hy die hond in die dag toemaak in die hok, maar in die aand uithaal en dan in sy winkel, binne-in die sentrum, toesluit vir sekuriteit.

Khodobo sê hy kon geen bewyse vind dat die honde aangehou word om te slag nie. Wat hom wel ontstel het, was die toestand van die hok waarin die honde aangehou word. “Die lewensomstandighede  en –middele in die hok was haglik,” het Khodobo gesê.

Te midde van die hoë dagtemperature, waarvoor Musina bekend is, was daar feitlik geen koelte vir die honde nie. Die hok was ook besaai van hondemis en die water- en kosbakke was vuil. Die eienaars het wel bevestig dat die honde daagliks kos kry.

Met geen bewyse dat die honde geslag word vir hul vleis nie, het Khodobo slegs ‘n finale waarskuwing aan die eienaars van die honde gegee om voor die einde van die maand verbeterings aan die hok aan te bring. Dit het behels dat ‘n afdak vir skaduwee opgerig sal word, die hok elke dag skoongemaak word en skoon water en kos voorsien word.

Khodobo het verder bevestig dat, alhoewel dit nie onwettig is in Suid-Afrika om hondevleis te eet nie, die DBV dié praktyk glad nie goedkeur nie. Hy het verwys na regulasie 1246 van die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962). In terme van die wet is die doodmaak van ‘n hond met die doel om die vel of vleis of enige ander deel van sodanige hond vir handelsdoeleindes te gebruik onwettig. By implikasie mag ‘n individu wat hou van hondevleis ‘n hond vir sy privaat gebruik slag.

Dit beteken egter nie dat enige iemand sommer by hul huis ‘n hond kan slag nie. ‘n Dier, in terme van die munisipale ordinansies, mag slegs by ‘n slagpale geslag word. Indien ‘n dier, soos ‘n bees, by ‘n huis geslag word as deel van ‘n godsdienstige of seremoniële ritueel, moet daar vooraf toestemming hiervoor verkry word by die plaaslike gesondheidsinspekteur.

 

 
 
 

Viewed: 573

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die staal hondehok waarin die honde deur die dag aangehou is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT