ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Ella Agenbacht (77). Foto verskaf.

Beminde en geliefde tannie Ella oorlede

Date: 04 December 2014 By: Andries van Zyl

Een van Louis Trichardt se mees beminde en geliefde inwoners, tannie Ella Agenbacht, is verlede Donderdag, 27 November, na ‘n kort siekbed in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

“Ons moet afskeid neem van ons mamma en ouma. Die gat in ons harte is onmeetbaar, maar dit word opgevul met dankbaarheid dat Mamma se lyding kort was en met vrolike herinneringe aan ‘n pragtige mens,” het haar kinders en kleinkinders gesê.

Tannie Ella is op 25 Mei 1937 te Koppies in die Vrystaat gebore as Elsie Maria Dorothea de Bruin. Op ‘n baie jong ouderdom verhuis die gesin na Boksburg waar sy grootword en haar laerskoolloopbaan by Laerskool Baanbreker voltooi, asook in 1955 by Voortrekker Hoërskool matrikuleer.

Van 1956 tot 1980 werk sy by die destydse Volkskas Bank, asook die munisipale pensioenfonds en Standard Telephones and Cables. In hierdie tydperk ontmoet sy haar man, die ewe bekende en beminde oom Wille Agenbacht, tydens ‘n KJV-kamp in 1957. In 1958 besluit die jong paartjie om te trou en drie kinders, Gustav, Elize en Lo-Ammi, word uit die huwelik gebore.

In 1980 verhuis die gesin na Tzaneen en in 1984 na Louis Trichardt. Hier werk sy tot met haar aftrede in 1995 by die destydse Intercity Delta. Baie inwoners sal ook onthou hoe lief sy vir brei was en sy kon enige stuk breiwerk soos ‘n ware kunswerk laat lyk.

Oom Willie en sy kinders het ná tannie Ella se afsterwe hul opregte dank uitgespreek teenoor ds. Rudolph Botha en sy vrou Edith, drs. Gaigher en Badenhorst en hul spreekkamer personeel, asook die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, vir hul ondersteuning tydens haar siekte. “Dan aan vriende, familie, lede van die NG-gemeente Soutpansberg (met spesiale vermelding van die Evas), Gister-se-Jeugklub en die breër gemeenskap: Baie, baie dankie vir jul wonderlike ondersteuning in die vorm van gebede, oproepe, besoeke, SMS'e, kos aandra, hulp met haar versorging tuis en watter aspekte ons dalk misgekyk het. Dit roer ‘n mens om te sien hoeveel omgee daar in Louis Trichardt en omgewing is. Dankie, ons waardeer dit!” het oom Willie gesê.

‘n Roudiens vir wyle tannie Ella is Donderdag, 4 Desember (vandag), om 13:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente gehou.

 
 
 

Viewed: 186

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT