ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Waardasierol is wettig, meen munisipaliteit

Date: 21 November 2014 By: Linda van der Westhuizen

“Die waardasierol is steeds wettig,” het die Makhado Munisipaliteit hierdie week gesê.

Die munisipaliteit het volgehou dat die waardasierol steeds wettig is, hoewel die hof bevind het dat die tenderproses om ‘n waardeerder aan te stel, onreëlmatig en foutief was.

Die medianavraag is gerig nadat die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) op 23 Oktober met die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, en van sy personeel vergader het om knelpunte te bespreek, soos die waardasierol en die bloktariewe vir elektrisiteitsverbruik wat teen ‘n glyskaal bereken word.

Vervolgens het die SBBV, in ‘n brief gedateer 30 Oktober, aan die munisipale bestuurder voorgestel dat alle belastingbetalers vir Julie, Augustus, September, November (2014) en verder aan gekrediteer word ten opsigte van hul eiendomsbelasting, totdat ‘n nuwe gekonsulteerde waardasierol geïmplementeer is.

Wat die appèlproses rondom die nuwe waardasierol betref, het die direkteur van beplanning en ontwikkeling, me. Dakalo Sinthumule, tydens die vergadering gesê dat daar nog geen verandering in die stand van sake is nie. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het ook bevestig dat daar nog niks verder gebeur het nie. Bobodi se antwoord het gelui: “Geen vordering, wag nog vir CoGHSTA om appèldatums te verskaf.”

Intussen hou die munisipaliteit vol dat hulle redes verskaf het aan die huiseienaars wat redes benodig het waarom hulle eiendom vir ‘n bepaalde bedrag gewaardeer is. “Ons het nog geen redes ontvang nie. Dit is seker omdat hulle nie redes het nie,” het die eienaar van ‘n huis onder Rissikstraat, wat aanvanklik vir meer as R2m gewaardeer is en afgebring is na R2m, gesê. Die munisipaliteit het egter gesê dat indien daar enige kliënte sou wees wat redes benodig, die inligting verskaf kan word.  

Die bloktariewe vir elektrisiteitsverbruik steek menige belastingbetaler al lankal dwars in die krop, veral as die meterlesings ongereeld geneem word en groot dele van die verbruik onnodiglik in die hoogste tarief ingestoot word. Die SBBV het aan die lig gebring dat die bloktariewe nie volgens die munisipaliteit se eie beleid gehef word nie. “Tydens die vergadering het die munisipale bestuurder die hoof van rekeninge gevra waarom die beleid nie aangepas is om bloktariewe te wettig nie,” het SBBV voorsitter Inga Gilfillan gesê.

“Ons vra dat alle bloktariewe opgehef word en daar teruggekeer word na die vaste tarief soos vervat in jul beleid. Ons vra ook dat alle rekeninge waar hierdie bloktariewe verkeerdelik gehef is, dienooreenkomstig gekrediteer word,” het die SBBV in hul brief gevra en ‘n antwoord versoek voor 15 November. Teen 18 November het Gilfillan gesê dat die antwoorde nog uitstaande was.

Vrae is aan die munisipaliteit gevra rondom die wettigheid van die hef van bloktariewe in die lig van die bestaande beleid en bywette, die aanpassing al dan nie van die bywette en die kreditering van rekeninge. “Hierdie antwoorde sal later gestuur word,” het Bobodi gesê.

 

 
 
 

Viewed: 153

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT