ADVERTISEMENT:

 

 
 

In Celliersstraat is dit stikdonker saans omdat nie 'n enkele straatlig werk nie. Dit is ook die geval in ander strate. Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week gesê dat daar nie op die oomblik ‘n onderhoudsplan vir straatligte is nie, terwyl hul straatligvervangingsprojek aan die gang is.

Nuwe straatligte kom, maar oues nie onderhou

Date: 14 November 2014 By: Linda van der Westhuizen

Sommige straatblokke, of dele van ander, in Louis Trichardt is snags weer pikdonker, ten spyte van die Makhado Munisipaliteit se onlangse herstel en opgradering daarvan.

Die munisipaliteit het hierdie week gesê dat daar nie tans ‘n onderhoudsplan is nie, terwyl die straatligvervangingsprojek nog aan die gang is.

Daar was groot tevredenheid toe die straatligvervangingsplan sowat 18 maande gelede momentum gekry het. Dit nadat die Soutpansberg Dorpswag die munisipaliteit van ‘n kaart voorsien het wat presies aandui watter straatligte nie werk nie. Die munisipaliteit het daarna begin om die hele omhulsel van elke bestaande straatlig te vervang met nuwe, energiebesparende gloeilampe. By voltooiing sal al 5 000 straatligte in die Makhado Munisipaliteit vervang wees.

“Die vervanging in die ou dorp, die nuwe uitbreiding, Eltivillas en Vuwani is afgehandel en ons is in die proses om Dzanani klaar te maak. Dan is nog net die Waterval area oor,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi hierdie week gesê.

Die “ou dorp” was eerste in die ry vir die nuwe straatligte. Die ligte is vervang, maar word tans nie onderhou nie.

“Die hele Songozwistraat tussen Douthwait en Celliers is stikdonker,” het me. Tanja Veldman aangemeld. Erasmusstraat, Kleynhans, Celliers, Douthwait en Anderson is nog ‘n paar van die strate waar daar donker kolle is wat vir een of selfs twee blokke aanhou. In Joubertstraat is daar weer ‘n gedeelte waar twee straatligte dag en nag brand.

Die munisipaliteit is gevra of hulle gereeld in die aande uitgaan om te sien watter straatligte brand en watter nie. Bobodi het gesê dat dit nie vir die munisipaliteit moontlik is om die straatligte in die aand na te gaan nie  “omdat die versoek om dit saans na te gaan nie aanbeveel was nie.” Die munisipaliteit se prosedure is om te reageer op klagtes van inwoners en opdragte van hul munisipale bestuurder.

“Ons reageer normaalweg so gou as moontlik gedurende normale werksure, tensy ons ‘n tekort aan gloeilampe of ‘n kersieplukker-vragmotor het. Indien ‘n klagte na ure inkom, staan dit oor tot die volgende werksdag. Dit is om oortyd kostes te verminder,” het Bobodi gesê.

Die donker strate laat inwoners onveilig voel. Me. Annette du Preez van die Grasdak in Cilliersstraat het gesê dat dit nou al ‘n hele paar weke donker in hulle straat is. “Dit is gevaarlik hier met hierdie veld oorkant die straat. Me. Cherise Gamble het dit reeds vier keer gerapporteer en die laaste keer was vandag,” het Du Preez op 11 November gesê. Een enkele hoë “straatlig” brand voor hul eiendom, maar dit is 'n lig wat hulle self geïnstalleer het.

In die nuwe uitbreiding is daar van die nuwe gloeilampe opgemerk wat nog nooit gewerk het nie. Die vraag is ook of die leeftyd van ‘n hele blok se straatligte in die ou dorp verstryk het. “Die leeftyd kan nie gewaarborg word nie, want die gloeilampe kan beskadig word deur weerlig of kragskommelinge (power surges). As ‘n mens in berekening bring dat ‘n gloeilamp gemiddeld 10 ure per nag vir 365 nagte per jaar brand, dan behoort die gemiddelde leeftyd van so ‘n gloeilamp onder normale omstandighede ongeveer 3 tot 5 jaar te wees,” het Bobodi gesê.

 

 
 
 

Viewed: 195

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT