ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Danie Lourens is baie hartseer, nadat iets 11 van sy pryswenner wedvlugduiwe doodgebyt het. Saam met hom in die hok by die dooie duiwe is sy hokbestuurder, Michael Morokolo (links). Foto verskaf.

Baie trane ná gedierte sy “kinders” doodbyt

Date: 14 November 2014 By: Andries van Zyl

Die trane vloei vrylik oor oom Danie Lourens van Louis Trichardt se wange en kort-kort vra hy om verskoning daaroor.

“Om daardie duiwe so te sien ... hulle was my kinders...” snik hy die woorde uit, terwyl hy die trane afvee. Sy oë bly optraan soos hy soek na woorde en dit is duidelik sy hartseer lê diep. Dit is te verstane, want in die hele Soutpansberg is daar sekerlik niemand anders wat sy liefde vir wedvlugduiwe en duifwedvlugte met meer entoesiasme uitgeleef het nie.

Op die ryp ouderdom van 86 jaar het oom Danie op 27 September vanjaar aan sy laaste duifwedvlugte vanaf Virginia, as lid van die Soutpansberg Posduifklub, deelgeneem. Hy het op ‘n hoë noot uit die sportsoort getree deur skoonskip te maak deur al drie opewedvlugte te wen. Daarmee saam het dit ‘n einde gebring aan oom Danie se wedvlugloopbaan wat oor vyf dekades gestrek het, nie omdat hy wou uittree nie, maar omdat sy gesondheid dit genoodsaak het.  

Maar wat kon oom Danie so ontstel?

Maandagoggend het hy 11 van sy pryswenner wedvlugduiwe doodgebyt gekry op die duiwehok se vloer. Al 11 het hierdie jaar vir hom punte gemaak en twee van die dooie duiwe was federasiewenners. Die een, ‘n wyfie van nege jaar, was in 2005 Veilingduif van die Jaar.

Niemand weet presies wat die duiwe doodgebyt het nie, maar oom Danie vermoed dit was ‘n meerkat. Naby sy huis op die hoek van Ruh- en Munnikstraat word daar juis gereeld meerkatte opgemerk wat in die stormwaterpype bly. Al leidraad wat daar is, is twee houtplankies op die dak van die duiwehok wat oopgebreek is.

 “ ...hulle was so mak, hulle het uit my hand geëet ... ek was so trots op my duiwe,” sê oom Danie. Om ‘n geldwaarde op oom Danie se “kinders” te plaas, sê oom Danie, is onmoontlik. Federasiewenners, waarvan hy twee verloor het, kan duisende rande kos.

Oom Danie, wat in 1959 aan sy eerste duiwewedvlug deelgeneem het, gaan nie sommer net die dood van sy geliefde duiwe aanvaar nie. Dit spel slegte nuus vir watter gedierte ookal vir die duiwe se dood verantwoordelik was. “Ek het klaar ‘n vanghok gestel. Ek sal julle laat weet as ek die oortreder gevang het,” sê oom Danie.

Oom Danie het tans nog 20 duiwe oor wat hy daagliks liefdevol versorg, alhoewel sy gesondheid maar pla. “Ek wens so ek kan ‘n goeie huis vir hulle kry, miskien ‘n jong mannetjie wat graag aktief aan duiwewedvlugte wil deelneem,” sê oom Danie.

 
 
 

Viewed: 557

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT