ADVERTISEMENT:

 

 
 

Na jare se administratiewe prosesse kom die langverwagte uitbreidings aan die Zoutpansberg Privaathospitaal van die grond af. Die hospitaalbestuurder, me. Anneke Stroebel (regs), en die hospitaal se fasiliteitsbestuurder, mnr. Fanie van Zyl, staan hier in die uitgrawings. 

Bouwerk begin ná jare se gestoei

Date: 30 October 2014 By: Linda van der Westhuizen

Die gemeenskap van Makhado (Louis Trichardt) en omgewing kan uitsien na ‘n meer uitgebreide mediese diens, noudat die eerste fase van die uitbreiding by die  Zoutpansberg Privaathospitaal van die grond af gekom het.

In hierdie fase word grondwerke en bouwerk gedoen wat nog 10 hospitaalbeddens insluit, buiten die hospitaal se bestaande 22 beddens. Die bouwerk word egter nie op die groot stuk grond langs die hospitaal, waar tans grondwerke aan die gang is, gedoen nie. Die uitbreidings gaan voor die huidige hospitaal aan Jouberstraat se kant plaasvind.

“Die direkteure is baie opgewonde oor die ontwikkeling by die Zoutpansberg Privaathospitaal. Die projek is reeds in 2010 geloods en vorm deel van die visie van die stigterslede in 1998. Hierdie eerste fase van die ontwikkeling is die eindproduk van jare se administratiewe prosesse…,” het een van die direkteure en lid van die bestuurskomitee vir die bouwerk, dr. Michiel Roos, hierdie week gesê.

“Hierdie was ‘n omslagtige en duur proses, maar het darem nie weer deur die howe gegaan nie,” het hospitaalbestuurder me. Anneke Stroebel gesê. Met die oorspronklike aansoek vir die eerste beddens van die hospitaal moes ‘n Hooggeregshofbevel verkry word, omdat daar in daardie stadium ‘n moratorium op nuwe hospitale was.

“Die koop van die grond, die registrasie van die akte en die hersonering alleen het vier-en-‘n-half jaar geneem. Buiten dat hierdie prosesse so lank neem,  het die wetgewing deurentyd verander en moes daar telkens aan nuwe voorwaardes voldoen word, wat alles groot finansiële implikasies inhou,” het Roos gesê.

“Daar is baie stoei en roei onder die stof voor jy op ‘n punt kom om te begin grawe,” het die hospitaal se fasiliteitsbestuurder, mnr. Fanie van Zyl, gesê. Die grondwerke nader voltooiing en daar is intussen besluit om ook plaveisel te lê. Die tydelike strukture wat tans as kantore dien, skuif oor na die gedeelte langsaan waar hulle nou die grondwerke doen. Daar kom ook aanvullende parkering, aangesien die huidige parkering tydelik in die slag gaan bly met die bouwerk.  Die koste van die grondwerke en plaveisel beloop ongeveer R700 000.

Die tenderproses vir die bouwerk is nog nie afgehandel nie. Bouwerk sal in 2015 begin en sowat 7 maande neem. Die koste van die totale projek is nog nie bekend nie.

Die grond aangrensend tot die hospitaal wat bygekoop is, beslaan 4100 m². Van Zyl het verduidelik dat die grondwerke vir toekomstige uitbreidings nou reeds volledig gedoen is om uitgawes te besnoei. Meer ontwikkelings word in die vooruitsig gestel.  Daar word konsultasiefasiliteite vir die huidige spesialiste, asook dié wat in die toekoms sal bykom, benodig. ‘n Tweede teater, ‘n hoësorgeenheid en ‘n ongevalle-eenheid is ook nog in die pyplyn.

“Die hospitaal het al goedkeuring van die Departement van Gesondheid vir hierdie addisionele fasiliteite. Ons het ook goedkeuring vir 44 beddens en kan dus ons 22 uiteindelik aanvul tot 44. Met die omslagtige prosesse was ons net bang ons verloor ons beddens. Die departement kom doen inspeksie en raak knorrig as die beddens wat goedgekeur is, nie realiseer nie en kan dit terugtrek. Om toestemming vir beddens te kry, is maklik ‘n twee-jaar projek,” het Stroebel gesê. Al die voorbereidende administratiewe prosesse en prokureurskostes het die hospitaal al ‘n paar miljoen uit die sak gejaag.

Die hospitaal vra om verskoning vir die ontwrigting wat die bouery nog gaan veroorsaak en die geraas met die grondwerke. “Die grond wat uitgegrawe is, kon na die plaaslike laerskool en hoërskool versprei word,” het Van Zyl gesê.

“Die maatskappy is deel is van die gemeenskap en het ‘n diens om te lewer, nie alleen deur mediese sorg te voorsien en die dienste verder uit te brei deur spesialiste na die dorp te bring nie, maar ook deur werkverskaffing en die gebruik van plaaslike diensverskaffers waar enigsins moontlik,” het Roos gesê.

 
 
 

Viewed: 196

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT