ADVERTISEMENT:

 

 
 

AfriForum besig om hul strategie uit te werk om minister Pravin Gordhan se hulp te bekom om in te gryp sodat die aksieplan vir watervoorsiening na Makhado (Louis Trichardt) voltooi kan word. Van links na regs is mnr.Wally Schultz (AfriForum Louis Trichardt), Limpopo se AfriForum koördineerder mnr. Morné Mostert en mnr. Werner Human, prokureur van Hurter en Spies. Foto verskaf.

Minister word gevra om in te gryp in waterkrisis

Date: 24 October 2014 By: Linda van der Westhuizen

Minister Pravin Gordhan is dringend versoek om in te gryp sodat die aksieplan vir watervoorsiening na Makhado (Louis Trichardt) voltooi kan word.

Burgerregte-organisasie AfriForum het die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede gevra om in te gryp. AfriForum voer aan dat die verandering van leierskap, wanadministrasie en onbekwaamheid gelei het tot die verbrokkeling van die aksieplan. Die premier van Limpopo is ook daarvan verwittig.

Een van die groot struikelblokke wat AfriForum aangedui het, was die verwydering van die munisipale bestuurder van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), die instansie wat water aan die dorp voorsien. Munisipale bestuurder Masala Makumule het goed met AfriForum  saamgewerk ná twee hofbevele teen die VDM verkry is. Die plan was in volle swang en so naby aan voltooiing dat die plaaslike AfriForum-tak al die oorwinning begin aankondig het.

Dinge het egter dramaties versleg toe Makumule met langverlof gegaan het en ongeveer vier maande gelede uit die amp verwyder is. Hy het glo die afgradering van die munisipaliteit van G4 na G3 voorgestaan. Makumule is opgevolg deur waarnemende munisipale bestuurder me. Mihloti Masuluke wat deur die vakbonde teëgestaan is en tot aan die begin van September in die amp gefunksioneer het. Daarna was die tegniese bestuurder, mnr. Ratidzai Madimutsa, vir ‘n kort rukkie waarnemend, totdat hy met waarnemende munisipale bestuurder mnr. Lindelani Muthivhi vervang is.

Intussen het die regering aan die begin van Augustus vanjaar direktiewe gepubliseer waarvolgens die spesiale ondersoekeenheid instansies moes ondersoek insluitende die poskantoor, die VDM en nog ‘n Limpopo munisipaliteit (Groter Lobatse), asook die nasionale departemente van arbeid, openbare werke en vervoer. By die munisipaliteit en nasionale departemente word wanadministrasie en onregmatige spandering en doelbewuste of nalatige verlies van publieke geld ondersoek.

“AfriForum het lank en geduldig met die VDM saamgewerk en het in Makumule ‘n nougesette en hardwerkende munisipale bestuurder gevind, wat ten spyte van begrotingsbeperkings en oor die algemeen onbekwame personeel, tog volgehoue vordering gemaak het om die Hooggeregshofbevel na te kom … Die opeenvolging van waarnemende munisipale bestuurders het administratiewe chaos en ‘n totale ontwrigting van die vordering met die hofbevel tot gevolg gehad,” het plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz in sy brief aan minister Gordhan geskryf. Dié brief is op 17 Oktober aangestuur. 

“Die eienaardige omstandighede van Makumule se verwydering moet dringend en  deeglik ondersoek word,” het Schultz gevra. Hy het ook genoem dat die water stuurkomitee gefunksioneer het, terwyl Makumule daar was, maar dat dit onder leiding van die algemene tegniese bestuurder van die VDM, Madimutsa, tot stilstand gekom het. Gordhan is versoek om Makumule weer in sy pos aan te stel om die verdere agteruitgang in water- en riooldienste teen te werk. ‘n Ondersoek na Madimutsa se aanstelling en sy moontlike verwydering is ook aangevra.

Nog ‘n probleem wat onder Gordhan se aandag gebring is, is die aanstelling van hoogsbetaalde konsultante vir die waterprojek wat dan weer onnodiglik ander konsultante in diens neem om hulle te adviseer, “Daar is byvoorbeeld ‘n konsultant aangestel om werk te doen wat in die eerste plek totaal onnodig was,” het Schultz gesê. Gordhan het in Julie vanjaar beklemtoon dat die gebruik van duur konsultante deur munisipaliteite afgeskaal moet word en dat die diens wat hulle lewer waarde moet toevoeg.

Buiten Makhado (Louis Trichardt) het Mookgopong (Naboomspruit) en Phalaborwa ook hul watertekorte by Gordhan bekla. “Al verskil die feite rondom die watertekorte in die drie dorpe, kan die oorsake vir die gebrek aan waterdienste telkens teruggevoer word na die kernsake van onbekwame personeel, gebrek aan goeie leierskap en die afwesigheid van wetgewing om munisipaliteite hulle verantwoordelikhede te laat nakom ... Bekwaamheid binne die munisipaliteite sal verseker dat staatsfondse vir watervoorsiening reg gebruik word en nie om subkontrakteurs mee te betaal nie,” het Limpopo se AfriForum koördineerder mnr. Morné Mostert geskryf.

AfriForum se hoofkantoor het ‘n vergadering met Gordhan versoek om al hierdie sake te bespreek en genoem dat hulle nie sal huiwer om die hof te nader om hul lede se regte af te dwing nie.

 
 
 

Viewed: 250

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT