ADVERTISEMENT:

 

 
 

Sake teen 14 leerlinge word teruggetrek

Date: 17 October 2014 By: Isabel Venter

Die leerlinge wat vroeër vanjaar vasgetrek is vir dwelmgebruik tydens ‘n blitsklopjag by Hoërskool Louis Trichardt, meen dit was die beste ding wat ooit met hulle kon gebeur het.

Dié leerlinge het verlede Vrydag weer in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn, waar die klagte van die onwettige besit van narkotika teen hulle teruggetrek is. Altesaam 14 kinders is aangekla, nadat hulle op 25 Julie tydens die klopjag positief getoets het vir dwelms. Nog ‘n leerling is gearresteer, nie omdat hy positief getoets het vir dwelms nie, maar omdat ‘n knipmes in sy besit gevind is. Al die leerlinge moes ‘n afwentelingsprogram voltooi, sodat die klagte teen hulle teruggetrek kon word.

Die afwentelingsprogram is ‘n program waarin die kinders hulp van ‘n maatskaplike werker ontvang oor hoe om sosiale druk te hanteer en hulle attent gemaak word op die gevaar wat dwelms inhou. Dié straf is voorgestel, sodat die kinders nie ‘n kriminele rekord sal hê wat hul mag kniehalter ná skool nie. Die leerlinge se ouderdomme het gewissel tussen 15 en 18 jaar. Hulle sal ook, indien daar weer ‘n klopjag by die skool is, outomaties gevra word om ‘n dwelmtoets te ondergaan.

Die Zoutpansberger het verneem dat van die leerlinge wat die program voltooi het, aangedui het dat hulle selfs bereid is om met hulle klasmaats te praat en aan te moedig om nie dwelms te gebruik nie.  

Tydens Vrydag se hofverrigtinge is 14 van die 15 leerlinge se sake teen hulle teruggetrek. Een meerderjarige leerling, wat van plan is om onskuldig te pleit op die klag, se saak is uitgestel. Die Staat het aangedui dat hulle wag op die laboratoriumuitslae van ‘n bloedmonster wat by die leerling geneem is kort ná die dwelmtoets by die skool.

Die leerling sal weer op 16 Oktober in die hof verskyn, sodat ‘n verhoordatum vasgestel kan word.  

 

 
 
 

Viewed: 242

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT