ADVERTISEMENT:

 

 
 

Afvalbestuur in Makhado (Louis Trichardt) is ‘n gemors, te danke aan ‘n geldtekort. As ‘n sanitêre diens, wat ‘n massiewe impak kan hê op inwoners se gesondheid, is dit een diens wat nie agterweë gelaat kan word nie.

Afvalbestuur ‘n gemors weens ‘n geldtekort

Date: 10 October 2014 By: Isabel Venter

Afvalbestuur in Makhado (Louis Trichardt) is letterlik ‘n gemors, te danke aan ‘n geldtekort.  

As ‘n sanitêre diens, wat ‘n massiewe impak kan hê op inwoners se gesondheid, is dit een diens wat nie agterweë gelaat kan word nie. Tog het konstruksiewerk by die dorp se nuwe stortingsterrein agter geraak, so veel so dat daar vir lang rukke niks gebeur het nie.

Die Zoutpansberger het navraag gedoen by die Makhado Munisipaliteit na ‘n vinnige besoek aan beide die nuwe (Rietvly) en ou (Vondeling) vullisterreine oor die stand van sake. Dit volg nadat verskeie inwoners gekla het dat hulle vir die soveelste keer hierdie jaar sukkel om hul vullis by die Vondelingterrein weg te gooi (Vir die wat nie weet nie, die Rietvlyterrein is ongeveer 6 km buite die dorp, verby die munisipale vliegveld – tussen die Soutpansberg Skietklub en Wearne Crushers).

By beide terreine het die toekomsvooruitsigte beroerd daar uitgesien.

Ten spyte daarvan dat die Vondelingterrein spog met ‘n nuwe hoë heining en ‘n halfgeboude weegbrug, is daar weinig spasie vir nuwe vullis. Volgens inwoners in die omgewing word hope vullis gereeld aan die brand gesteek as dit te veel raak - iets wat die Makhado Munisipaliteit al by meer as een geleentheid in die verlede gesê het hulle níé doen nie.

Die nuwe Rietvlyterrein was veronderstel om in November hierdie jaar in gebruik geneem te word, waarna sluitings- en rehabilitasiewerk aan die Vondelingterrein sou begin het.

Volgens die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het die begrote geld vir die nuwe terrein egter opgeraak. Terwyl die geldsake uitgepluis word, het die openingsdatum van die terrein nou weer aangeskuif tot Februarie volgende jaar. Bobodi was onwillig om verder uit te brei oor die geldsake. 

Bobodi was ook onwillig om te sê wie die geld verskaf het vir die nuwe strukture by die Vondelingterrein. Volgens Bobodi is die nuwe weegbrug ingevolge 'n bevel van die Departement van Omgewingsake aangebring. Hy kon nie bevestig hoekom die weegbrug nog net halfpad klaar gebou is nie, maar wel dat dit nog nie in hierdie stadium 'n impak sal hê op belastingbetalers se sakke nie. Intussen wonder inwoners of hulle voortaan per gewig sal moet betaal om hulle vullis te stort. Talle wonder ook waarom daar geld spandeer moet word om ‘n weegbrug te bou by ‘n terrein wat, volgens beplanning, binne die volgende ses maande dalk gaan sluit?

 
 
 

Viewed: 165

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dié halfgeboude weegbrug by die Vondeling vullisterrein het inwoners aan die wonder. Volgens die munisipaliteit is 'n weegbrug nodig omdat die Departement van Omgewingsake hulle beveel het om een te bou.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT