ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Nie net kleuterskole sal moet soneer nie

Date: 10 October 2014 By: Isabel Venter

Dit is nie net kleuterskole wat hulle sokkies sal moet optrek en hersoneer nie, want ander ondernemings gaan ook ondersoek word.

Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week in ‘n persverklaring gereageer op berigte in verlede week se Zoutpansberger dat kleuterskole sal moet sluit as hulle sakepersele nie reg gesoneer is nie.

Volgens die munisipaliteit is dit die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) wat kleuterskole dwing om aan sekere regulasies te voldoen, waarvan een voorwaarde is dat ‘n skool aan die DMO moet kan bewys dat hulle perseel voldoen aan munisipale bywette en ordinansies. “Daar was ‘n aanbieding deur die DMO, waar skole geregistreer is, en hulle [DMO] het aangedui dat daar verandering aan hul kant is, wat gekoppel is aan die sperdatum,” sê die munisipaliteit.

Verder het die munisipaliteit gewaarsku dat hulle wel wetlik verplig is om op te tree teen skole wie se persele nie reg is nie. “Die munisipaliteit sal voortgaan om aksie te neem teen diegene wat nie aan die vereistes voldoen nie.”

Die munisipaliteit het bevestig dat hulle hierdie jaar al kennisgewings uitgereik het aan meer as 10 skole. Dit sluit skole in wie se persele nog as residensieel gesoneer is, asook skole wat sake doen met ‘n vergunningsgebruik (special consent) permit en dit nie jaarliks hernu nie. “Die uitdaging is dat die meeste van die crèche eienaars die voorwaardes ignoreer, en die munisipaliteit kan dit nie net daar laat nie - grondgebruik moet beheer word, maak nie saak hoe lank ‘n besigheid al in bedryf is nie,” was die munisipaliteit se antwoord op ‘n vraag hoekom daar nou eers na skole se sonering gekyk word.

In hierdie navraag het die Zoutpansberger die munisipaliteit verwys na ander besighede soos Mooketsi Towing (Olifantstraat), Maseakhole Constructability and Projects (Stubsstraat) en Build It (h/v Joubert- en Krugerstraat) wat ook vir jare sonder die nodige sonering of bouplanne sake doen. Volgens die munisipaliteit is hierdie besighede reeds oor die vingers getik. “Dit is nie waar dat die munisipaliteit net op sekere besighede fokus nie,” sê die munisipaliteit.

Die munisipaliteit het ook aangedui dat hulle binnekort inligtingvergaderings gaan belê met die eienaars van hotelle en oornagverblyf- en losieshuise om te verseker dat hulle voldoen aan grondgebruik regulasies. “Vir die munisipaliteit is dit ‘n voortdurende proses om te verseker dat die gemeenskap moet weet wat moet gebeur as dit kom by grondgebruik.”

Teen druktyd het die munisipaliteit voet by stuk gehou dat besighede soos Mooketsi en Maseakhole van die meer as 20 ander besighede is waaraan 'n oortredingsbrief gegee is, en dat hulle nie meer onwettig sake doen nie. 

 

 
 
 

Viewed: 171

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT