ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Hul toekoms duister

Date: 03 October 2014 By: Isabel Venter

Plaaslike kleuterskole is in die spervuur en staar ‘n onsekere toekoms in die gesig.

‘n Herrie het sowat drie maande gelede losgebars toe die Makhado Munisipaliteit alle kleuterskole in Makhado (Louis Trichardt) meegedeel het dat hulle gesluit sal word as hulle registrasies nie in orde is nie. Dit is nie net kleuterskole in die dorp wat moet registreer nie, maar ook die skooltjies in Eltivillas en Tshikota.

Hierdie waarskuwing is gerig aan skooleienaars tydens ‘n munisipale vergadering op 6 Junie. In ‘n opvolgvergadering verlede Dinsdag (23ste) is skooleienaars ook gewaarsku dat hulle ‘n boete of tronkstraf opgelê kan word as hulle gaan aanhou om skool te hou op ‘n perseel wat nie behoorlik gesoneer is nie. “Die wet is die wet, en ons kan dit nie verander vir enige iemand of iets nie – wat vir een persoon geld, geld vir die volgende,” was die munisipale direkteur, Dakalo Sinthumule, se woorde aan skole wat die vergadering bygewoon het.

Volgens plaaslike stadsbeplanningswetgewing hang die gebruik van ‘n erf af van hoe dit gesoneer is. Dit is onwettig om ‘n besigheid te bedryf van ‘n erf wat gesoneer is vir residensiële gebruik.  Buiten dat skole sal moet hersoneer, het die munisipaliteit gewaarsku dat hulle ook sal moet voldoen aan die wetlike vereistes van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO).

Volgens die DMO, wat ook die vergadering toegespreek het, sal daar voortaan van skooleienaars en -hoofde verwag word om geregistreer te wees by die DMO, asook by die Departement van Onderwys, in terme van die nuwe Kinderwet (Wet 388 van 2005).  

Daar is tans ongeveer 25 gevestigde kleuterskole en dagsorgsentrums in en om die dorp, waarvan talle reeds in die bedryf is vir meer as 10 jaar, en weinig van hulle is op ‘n besigheidsperseel geleë. Dié nuwe verwikkelinge, het die skole aan die Zoutpansbergergesê, het eintlik as ‘n skok vir hulle gekom. “Dis gek; ek het vir 10 jaar lank my eie speelgroep bedryf, en die munisipaliteit het altyd net van my verwag om aan gesondheidstandaarde te voldoen,” het mev. Elizma Pohl gesê. Sy het, soos meeste van die ander skoolhoofde, haar speelgroep vanaf haar huis bedryf.

Van al hierdie skole bied meer as die helfte ‘n heenkome vir kindertjies wat uit minder gegoede huise kom en maak wening of enige wins. “Hierdie besluit van die munisipaliteit druk die liefde vir die saak dood,” het mev. Liezel Botha van Kleuter Kampus opgemerk.

As kleuterskole gedwing word om te sluit, sal daar talle kinders wees sonder ‘n ander heenkome. Gevalle wissel van werklose of enkelouers wat afslag gegee word op skoolgelde, tot kinders wat in pleegsorg of wees is, wat gesubsidieer word deur skole. Daar is ook gevalle waar kinders uit sulke arm huise kom, dat die bord kos wat hulle by hul kleuterskool kry dikwels die enigste een is wat hulle kry.

Hersoneringkostes kan ‘n kleuterskool enige iets van R15 000 tot R30 000 uit die sak jaag. In Botha se geval moes sy alreeds R60 000 betaal. Volgens  Sinthumule kan die presiese kostes van ‘n aansoek eers bepaal word as dit goedgekeur is. “Daar is vir ons gesê indien jy jou [hersonerings-]aansoek bring, jy geen waarborg sal hê dat dit toegestaan sal word nie; jy staan dus ‘n kans om die aansoekgelde wat jy betaal het, te verloor,” het mev. Nettie Geerdts van Heaven Sent Kleuterskool gesê. “Wie in vandag se swak ekonomiese toestande kan dit doen?! Ek is geregistreer by die DMO, maar het nog nooit van hersonering gehoor nie. Ek is seker daar is 'n ander manier hoe die munisipaliteit te werk kon gaan,” het Geerdts gesê.

Sy, soos verskeie ander skole, sal waarskynlik noodgedwonge moet sluit as hulle nie kan hersoneer nie.

Teen druktyd het die Makhado Munisipaliteit nog net ontvangs erken van die Zoutpansberger se navrae. Navrae oor wanneer die munisipaliteit ‘n antwoord gereed sou hê, was vaag. Volgens die woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, moes “’n sekere direkteur aandag skenk aan die Zoutpansberger se vrae.” 

 
 
 

Viewed: 400

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT