ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle mnr. Basie Goosen. Foto verskaf.

Soutpansberg se Oom Basie oorlede

Date: 19 September 2014 By: News Correspondent

'n Baie bekende oud-inwoner van die Soutpansberg, mnr. Basie Goosen, is onlangs op Modimolle oorlede. Hy was 79 jaar oud.

Oom Basie is op 22 Julie 1935 in Makhado (Louis Trichardt) gebore en Pieter Johannes gedoop. Hy word op die plaas Grootpraat in die Mopane-distrik groot en was op Mopane Laerskool op skool. Hy matrikuleer in 1954 aan die Hoërskool Louis Trichardt.

Oom Basie begin in 1955 'n vakleerlingskap as passer en draaier by die kopermyn op Messina en trou in 1959 met Anna Roets. Uit die huwelik is drie seuns, Danie, Leon en Tielman, en 'n dogter, Marlene, gebore.

Oom Basie het tot in 1971 by die myn gewerk en deeltyds begin boer op die plaas Blaauwkop in die Messina-distrik. 'n Jaar later het hy permanent begin boer en baie landboukundiges het hom as een van die suksesvolste boere in die gebied beskou. Hy was 'n lid van georganiseerde landbou, 'n offisier in die Soutpansberg Kommando, 'n geesdriftige jagter en sportman en het op verskillende komitees gedien.

Die Goosen-egpaar het in 2000 na die Bosveldsig sekuriteitsoord in Modimolle verhuis. Daar het hulle aktief by die omgewing ingeskakel. Hy was 'n baie goeie rolbalspeler en deel van die Swaeltjies-karavaangroep wat gereeld in die winter die warm weer op Tshipise gaan opsoek het. 'n Dag voor sy skielike dood, op 29 Augustus, het die egpaar van Tshipise af teruggekom.

'n Troosdiens vir wyle oom Basie is op 5 September in die N.G. Kerk Waterberg in Modimolle gehou. Dit is waargeneem deur 'n neef, ds. Danie Ueckermann, leraar van die N.G. Kerk Nylstroom-Oos. 'n Groot groep van sy rolbalvriende het in 'n erewag by die kerk aan hom hulde gebring.

Hy laat sy vrou, vier kinders en ses kleinkinders na.

 

 
 
 

Viewed: 141

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT