ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bejaardes laat boef bloei

Date: 12 September 2014 By: Isabel Venter

‘n Egpaar van die Alldays-omgewing het verlede week die bordjies verhang tydens ‘n plaasaanval.

Die 66-jarige mnr. Gilbert Gerhardt en sy vrou Annatjie (67) het terugbaklei teen hulle aanvaller en met die vuiste ingeklim toe ‘n rower hulle Vrydag (5de) in die donker oggendure verras het. Hulle woon op die plaas Kopbeenspan, naby die Platjan-grenspos.

Tannie Annatjie het eerste bewus geword van iemand wat in die donker om die bed sluip. Sy het Dinsdag telefonies aan die Zoutpansberger vertel wat verder gebeur het.

Aanvanklik het tannie Annatjie gedink dit was haar swaer, wat gereeld in sy slaap loop, wat langs die bed staan, maar dit was nié swaer Lauwrey nie. 

“Daar was iets bo my kop wat soos ‘n hand gevoel het,” het tannie Annatjie gesê. Onder die indruk dat sy met Lauwrey praat, vra sy hom toe wat hy soek. “Ek het net ‘n gemompel, so tsjie-tsjie, gehoor en toe harder begin praat.” Oom Gilbert, wat nog geslaap het, het toe ook wakker geword en vir “Lauwrey” gevra wat hy soek.

“Dis toe dat ek die man ruik, en toe wéét ek dis ‘n inbreker,” sê tannie Annatjie.

Met dié besef het alle hel om tannie Annatjie en haar man losgebreek. Die rower het in die donker na hulle probeer gryp, maar hom eers misgis met hoe hoog hulle bed staan. “Ek het hom geskop, maar hy het teruggekom en my man gegryp.”

Die rower het vir oom Gilbert op die bed probeer vasdruk en slaan, maar het hom weereens misreken. Oom Gilbert het begin terugslaan. In die stoeiery het oom Gilbert en die rower beide hulle koppe teen die bed se kopstuk gestamp.

Tannie Annatjie het die kamerlig gaan aansit, net om te sien hoe die rower haar man verniel. “Ek het gedink hy [die rower] gaan die oorhand kry,” het sy gesê.  In daardie stadium, vertel tannie Annatjie, was alles in die huis toegesluit omdat hulle vir Lauwrey die oggend stad toe sou vat.

Wetende dat dit tydmors sou wees om eers die kluis oop te sluit, het tannie Annatjie ‘n ander plan gemaak. “Maar toe dink ek: ‘Wag ons het mos die klein pikkie ... dit is ‘n pikkie wat my man al jare het, wat hy by die myn nog gekry het,” vertel tannie Annatjie.

Gewapen met dié pik het tannie Annatjie haar man te hulp gesnel. Die gestoeiery tussen oom Gilbert en die rower het toe al tot in die gang gevorder. “Ek het vir die oom geskreeu: 'Hou hom net vas, ek kom',” waarop tannie Annatjie ingelê het en die pik vir oom Gilbert gegee het.

Die struweling tussen oom Gilbert en die rower het voortgeduur. Tannie Annatjie het intussen gehardloop om hul wapen uit die kluis te gaan haal. Dit was toe dat die rower besluit het om hom eerder uit die voete te maak, veral nadat tannie Annatjie vir oom Gilbert gesê het om hom net vas te hou terwyl sy haar .22 gaan haal.

“Lyk my toe skrik die ou so groot, hy laat los en hardloop,” sê tannie Annatjie.

By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die man die gaas van ‘n deur oopgesny het, en so die huis binnegekom het. Die egpaar se seun, Bertus, wat op die buurplaas bly, was blitsvinnig daar om te help en het die polisie in kennis gestel.

Die rower se spore is gevolg en hy is op ‘n ander buurplaas gearresteer. Hy was glo voorheen ‘n werker op die Gerhardts se plaas, maar is afgedank. Die man het Maandag in die Landdroshof op Mokopane verskyn op klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy het ook ‘n teenklag van aanranding teen Bertus gelê. 

Tannie Annatjie sê sy is net dankbaar hulle is nie ernstig beseer nie, en dat sy en oom Gilbert daarin kon slaag om die aanval af te weer. 

 

 
 
 

Viewed: 503

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT