ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op die voorgrond lê een van die vermeende motorkapers wat Dinsdag, danksy samewerking tussen die polisie, die plaas- en dorpswag, aangekeer is.

Twee beweerde kapers loop hulle rieme styf

Date: 12 September 2014 By: Isabel Venter

‘n Spanpoging tussen die publiek en die Makhado polisie het twee vermeende kapers in hul spore gestuit.

Dié kapingsdrama het Dinsdag omstreeks 17:00 naby die Witvlagpad afgespeel en aanleiding gegee tot ‘n wilde jaagtog waarin die verdagtes toe gearresteer is.

Volgens inligting verskaf deur die polisie het twee mans ‘n Indiër-sakeman op die Maelula grondpad voorgekeer en ‘n vuurwapen teen sy kop gedruk. Hulle het die man ook glo met pepersproei in die gesig gespuit en uit sy bakkie geboender. Hulle het daarna met sy bakkie weggejaag.

Plaaswerkers wat in die pad afgestap gekom het, het die hulpelose man gekry en hulp ontbied. Die plaaslike plaaswag het dadelik opgeruk, en ook die hulp van die polisie en Soutpansberg Dorpswag ontbied.

Die twee verdagtes het met die Piesanghoekpad langs probeer ontsnap, maar die net is toe alreeds stywer om hulle gespan.

Sowat vyf kilometer van die dorp af, op die Levubupad, het die mans in die bakkie gestop en oorgeklim in ‘n minibus-taxi. Die minibus-taxi is egter deur die polisie en dorpswaglede van die pad gedwing, waarna die twee verdagtes in boeie geslaan is.

Provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het bevestig dat die twee mans in aanhouding is en Donderdag (vandag) in die Louis Trichardt Distrikshof sou verskyn. Hy het verder bevestig dat daar ‘n groot bedrag geld in die verdagtes se besit gevind is.

Een van die verdagtes het ook, ten tye van sy arrestasie, ‘n grys oorpakbaadjie van die Makhado Munisipaliteit aangehad. Sadike het bevestig dat daar ondersoek gedoen sal word of die man werksaam is by die munisipaliteit. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Woensdag ook gesê dat hulle sal ondersoek of die man een van hulle werkers is, en sal later opvolgvrae beantwoord.

Intussen ondersoek die polisie ook die moontlikheid dat die twee mans deel is van ‘n bende wat mense in die Nzhelele-area beroof deur hulle met pepersproei te spuit. 

 
 
 

Viewed: 421

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die groot hoeveelheid kontant wat in die verdagtes se besit gevind is.

Gevang! Spanwerk tussen die publiek en die Makhado polisie het verseker
dat dié twee vermeende motorkapers hul dag in die hof gaan kry.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT