ADVERTISEMENT:

 

 
 

generic image

Chauke-verhoor sal tot Februarie moet wag

Date: 12 September 2014 By: Isabel Venter

Gemeenskapslede moes vandeesweek onverrigte sake by die hof omdraai, nadat die verhoor van een van die streek se mees berugte misdadigers, Brighton Chauke, weer vertraag is.

Maandag het lede van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), die Levubu-gemeenskap en van Chauke se beweerde slagoffers, mnre. Jan Louw en Ferdie Landman, in die Louis Trichardt Landdroshof gewag vir Chauke se verhoor om te begin. Die 33-jarige Chauke word verbind met verskeie geweldsmisdade in die Soutpansberg-streek. Hy staar onder meer verskeie klagte van gewapende roof, huisbraak, poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in die gesig. Hy sou Maandag in die rondgaande Hooggeregshof hier tereggestaan het op dié aanklagte.

Chauke word daarvan aangekla dat hy die amper noodlottige aanval op Louw en Landman geloods het op die plaas Nooitgedacht op 28 Mei 2011. Dit het ook aan die lig gekom dat Chauke positief verbind word met die moord op die 51-jarige mnr. Eric Neshunzhi op die plaas Goedehoop op 1 Julie 2011.

Chauke word ook daarvan beskuldig dat hy ‘n .303-geweer gesteel het, kort nadat hy uit polisie-aanhouding ontsnap het in Musina gedurende Oktober 2010. Gedurende hierdie tyd was Chauke, saam met sy broer Shorty Chauke, verhoorafwagtend in ‘n moordsaak, asook drie gewapende rooftogte in Makhado (Louis Trichardt). Shorty (44) is reeds gevonnis tot 45 jaar gevangenisstraf op dié roofklagte.

Ná byna ‘n jaar op vrye voet, is Brighton weer op 7 Augustus 2011 op Waterval gevang, nadat ‘n lid van die gemeenskap hom herken het. Sedertdien het Brighton al verskeie kere in die hof verskyn. Van die vorige sake teen hom voor sy ontsnapping moes eers afgehandel word, voordat hy verhoor kon word op die nuwe klagte teen hom ná sy herarrestasie.

Die provinsiale polisie woordvoerder, kol. Ronel Otto, het vandeesweek bevestig dat Chauke reeds ‘n ellelange kriminele rekord het. Chauke is volgens die polisie reeds skuldig bevind op agt klagte, wat insluit gewapende roof, huisbraak, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en winkeldiefstal.

Buiten die Louw en Landman-saak, is daar nog 15 ander hofsake ook teen Chauke wat nog afgehandel moet word. Dit sluit in klagte van roof, huisbraak, poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Die koerant kon ook vasstel dat Chauke verlede jaar skuldig bevind is op ‘n klag van moord, waarvoor hy lewenslange gevangenisstraf opgelê is.

Tydens sy hofverskyning Maandag is Chauke se saak uitgestel, nadat hy kapsie aangeteken het oor sy aangestelde prokureur. Brighton was nie tevrede met die werk van sy Regshulp-prokureur nie, en soek ‘n ander prokureur. Sy saak is uitgestel tot en met 23 Februarie 2015, sodat sy versoek verwerk kan word. Chauke sal intussen in aanhouding bly.

 
 
 

Viewed: 213

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT