ADVERTISEMENT

 
 

 

Vir ‘n koerant om ‘n klag by die Menseregtekommissie aanhangig te maak, voel nie reg nie. Die boodskapper is nie ver­onderstel om betrokke te raak by die prentjie nie. Dit is die boodskapper se taak om te reflekteer wat gebeur in ‘n gemeenskap. Die koerant moet op tye die lig skyn op wat in die donker gebeur en moet soos ‘n goeie waghond blaf as daar gevaar dreig.

Die boodskapper moet egter waak daarteen om ‘n rolspeler te wil word.

Soms is die boodskapper egter ook net ‘n gewone burger van die land wat ontmoedig word deur die grootskaalse korrupsie en geweldsmisdade. Die koerant is net ‘n gewone inwoner van die streek wat ‘n verantwoordelikheid het om misdaad aan te meld en vir die korrupte beampte te sê dat dit wat hy of sy doen nie geduld mag word nie.

Die insident bietjie meer as twee weke gelede waar die bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie uitgevaar het teen ‘n joernalis, is een voorbeeld waar die boodskapper se rolle begin ruil. Die rassistiese ondertone en diskriminasie teen taalgroepe, soos wat kol. Francois Ramovha ten toon gestel het, kan nie in ons demokrasie gelate aanvaar word nie.

Dit is ook nie asof die koe­rant nie moeite gedoen het om die situasie op ‘n diplomatiese wyse aan te spreek nie. Die voorval is onmiddellik aangemeld by die SAPD se senior offisiere in die provinsie. Daar is daagliks opgevolg met die versoek dat die aangeleentheid ondersoek word en dat daar in gesprek getree word sodat die probleem aangespreek kan word. Behalwe vir ‘n vae belofte dat die saak “ondersoek sal word”, het niks gebeur nie.

Die probleem is ook iets wat buitengewoon ernstig is en dringende optrede verg. Misdaad is ‘n probleem waarmee gemeenskappe regdeur die land worstel. Dit is ook duidelik dat die gemeenskappe gefrustreerd raak met die polisie se klaarblyklike onvermoë om dit aan te spreek. Die hoeveelheid insidente van bende-geregtigheid wat die afgelope twee maande gerapporteer is, is kommerwekkend. Die vraag kan gevra word op watter stadium gee die gemeenskap tou op met die wetstoepassers en neem die reg in eie hande?

Die antwoord lê waarskynlik in ‘n samevoeging van ‘n klomp faktore. Dit begin by die stopstraat op die hoek waar dit blykbaar nie meer nodig is om spoed te verminder nie. Oorkant die pad is die sakeman besig om fluks op die sypaadjie en selfs in die teerpad sake te doen. Bouregulasies word geminag  en tenders kan net met omkoopgeld verkry word. Tussendeur luister ons na berigte van plaasaanvalle en weerlose senior burgers wat aangerand word. Dit is wetteloosheid op elke vlak van die samelewing.

Wanneer die bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie gepols word oor die misdaad, ontplof hy en braak gal teenoor ‘n verslaggeefster. Hy dreig haar met arrestasie en vaar uit teen ‘n taalgroep wat volgens hom eerder na Europa moet terugkeer as hulle nie saamstem met die gebeure in die land nie.

Dit is op hierdie punt wat die rol van die boodskapper bietjie op die agtergrond geskuif word en die burger van die land na vore tree.

Nee Kolonel Ramovha – ek is trots op my Afrikaanse herkoms en jy het geen reg om my in jou duiwehokkie te probeer inpas nie! Ek het goeie vriende wat Engels, Tshivenda, isiZulu en talle ander tale praat. Van hulle is Christene, ander Moslems en Hindu’s en daar is diegene wat in geen god glo nie. Jy druk my nie in jou houertjie in en besluit watter politieke kleur ek sal wees nie.

Die agbare kolonel het die volste reg om die koerant te kritiseer. Buiten dat ons die reg erken, sal ons dit baie aggressief verdedig. Die kolonel het die reg om te sê ons is subjektief, eensydig, ongebalanseerd of selfs onprofessioneel. Ons kan met hom verskil, maar hy is geregtig op sy mening en hy mag dit uitspreek. Hy het egter nie die reg om ons as rassiste uit te kryt net omdat ons verkies om ‘n Afrikaanse gemeenskap ook te bedien nie.

Nee, kolonel. Die Afrikaans-sprekendes (waarvan baie lig van kleur is), is baie besorgd oor hierdie wonderlike land van ons. Baie van ons is in diens van die polisie of verdedi­gingsmagte en baie van ons dien vrywillig in strukture om die gemeenskap te beskerm. Ons is nie bereid om op te gee op die ideaal van ‘n land waar daar vir elkeen, onafhanklik van hoe die persoon lyk en watter taal hy of sy praat, ‘n plekkie is nie.

Dit is vir ons belangrik dat wette toegepas word en dat orde gehandhaaf word.
Dit is ook juis daarom dat ons ‘n klag teen u by die Menseregtekommissie aanhang­ig gemaak het.

- Anton van Zyl
Redakteur

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT