ADVERTISEMENT

 
 

 

     Redaksionele kommentaar

Deesdae maak dit nie meer saak waar in die dorp jy ry nie. Vroeër of later sal jy iemand kry wat blatant, sonder om veel spoed te verminder, oor ‘n stopstraat jaag. Sommiges doen dit subtiel en sal links en regs loer voor hulle weer versnel; ander maak nie oogkontak nie en jaag ongestoord verder.

Om te stereotipeer het nie veel nut nie. Dit is nie net minibus taxis of busse nie. Dit is ook mammas wat met die kleinding op die skoot skool toe jaag. Dit is die sakeman wat Vrydag 06:00 reg voor jou oor ’n stopstraat jaag om betyds te wees vir die Manne van die Woord-byeenkoms. Dit is die fietsryer wat bergaf jaag sonder om spoed te verminder by enige van die kruisings.

Het ons net alle respek vir wette verloor, of het die nooodsaaklike grysstof wat ons nodig het vir oorlewing, stelselmatig uit die breine begin verdamp?

Dit is ook nie net die fisiese stopstrate wat met minagting bejeën word nie. Op alle vlakke van die samelewing word die “stopstrate” blatant geïgnoreer. Hoeveel besighede steur hulle min aan wetgewing wat daarop gerig is om die verbruikers te beskerm? Gaan kyk gerus hoeveel besighede in die dorp ware uitstal met geen prys op nie. Ander plak pryse op en eers later vind jy uit dat BTW nog bygevoeg moet word. Nog ander gee fluks kwotasies en by die betaalslag word die “verskuilde” kostes eers duidelik.

Die voorbeelde van die stopstrate wat ons ignoreer, is legio. Daar is die sakeman wat openlik vertel hy koop databasisse op met selfoonnommers wat dan gebruik word in sy SMS bemarkingsveldtog. Waarsku jy hom dat dit onwettig is, vertel hy jou dat niemand dit polisieër nie, so hoekom moet hy bekommerd wees.

Miskien is dit deel van die pro­bleem – die feit dat die wetstoepassers afwesig is. Die morele verval is in ‘n gevorderde stadium en die persone wat die rigting moet aandui, skitter in hulle afwesigheid.
Dit is in sulke situasies dat die koerant as boodskapper na vore moet tree en sy waghondfunksie na behore vervul. Die waghondfunksie, veral in ‘n klein hegte gemeenskap, is nie altyd maklik nie en mense raak vinnig geïrriteerd met die geblaf, veral as hulle op plekke is waar hulle dalk nie moet wees nie. Dit is dan wanneer die waghond geskop of afgeknou word ten einde hom stil te maak.

In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger is berig oor die onwettige straatwedrenne wat Sondagaande op die N1 plaasvind. Die aktiwiteite is niks nuuts nie en vind al baie jare in een of ander formaat plaas. Wat egter kommerwekkend is, is die blatante kondonering daarvan deur ‘n deel van die gemeenskap. Hierdie kondo­nering sluit ook lede van die veiligheidstrukture in, en spesifiek lede van die plaaslike dorpswag.

Die deelnemers aan die onwettige jaagtogte is vermetel genoeg om hul onwettige aktiwiteite openlik op sosiale media te bemark. Die ondersteuners van hierdie groepe sluit prominente lede van die gemeenskap in. Die ondersteuners is ook baie vinnig om uit te vaar teen enige iemand wat hulle aktiwiteite kritiseer (en hulle kan baie persoonlik raak).

Die wyse waarop die onwettige jaers die reg uitdaag, is bykans ondenkbaar. Die wedrenne vind op ‘n nasionale deurpad plaas te midde van ander motors, voetgangers, busse en vragmotors. Dit is asof daar nie ‘n gewete is nie en die narsissisme botoon voer. Uiteindelik is die openlike vertoon van wetteloosheid niks minder as die verkragting van ‘n stelsel wat orde probeer bewerkstellig nie.  
Miskien het dit nou tyd geword vir die koerant om bietjie harder te begin blaf en openlik vir die groep jaers en hul ondersteuners te sê dat julle besig is om droog te maak. Iemand moet vir die jong pa (wat so trots poseer met sy pasgebore seuntjie) sê dat hy ‘n verantwoordelikheid het teenoor sy gesin. Wie gaan eendag vir sy seun vertel dat sy pa gesterf het tydens ‘n onwettige jaagtog? Baie moontlik lees hy eers later jare in ‘n ou koerant hoe sy pa met sy “warmgemaakte kar” in ‘n bus vol kinders ingeploeg het...

Ons het soveel voorbeelde van die hartseer wat die slagting op ons paaie veroorsaak – gaan vra gerus vir Collins Chabane se geliefdes. Wanneer gaan ons leer dat ons nie die stopstrate of die snelheidsperk kan verontagsaam sonder om die gevolge daarvan te dra nie?

Die vraag wat al vir soveel dekades (dalk eeue) lank gevra word, is “hoe kan dit gestop word?”. Hoe voorkom ons dat die motoriste rondom ons blatant oor stopstrate jaag en straatwedrenne reël? Ek dink die oplossing begin by elkeen van ons.

Die ou beginsel geld steeds, naamlik dat as elkeen voor hul eie deure vee, ons eindig met skoon sypaadjies. Tel die gemors op voor jou eie huis, en die buurt sal stelselmatig skoon word.
Dieselfde geld vir stopstrate. Begin stop, en binnekort sal ander dalk dieselfde respek betoon.
Om die waghond te wil skop, gaan nie help nie. Miskien blaf die hond heeltemal te min en het die skoppie hom net bietjie wakker gemaak. Dit mag wees dat daar baie meer bedreigings is waarvan die mense van die huis niks weet nie.

Fokus op die probleme in ons gemeenskap en moenie deel word van die probleem nie.

- Anton van Zyl

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT