ADVERTISEMENT:

 

 
 

58. Daisy leer die Texas-mans van volkspele

Date: 18 December 2014 By: News Correspondent

Die geskarrel van die Bloutrein se personeel op Kimberleystasie ontwrig glad nie die jolige pokerspel nie. Daisy, sigaar in die mond en ‘n hoop note (selfs ‘n paar in dollars en ponde!) voor haar, weet net dat sy besig is om te wen. Sy het lanklaas soveel pret gehad.

Herman, die privaat butler, kom praat suutjies by Kathy se oor. Hy beduie en pleit, kyk benoud om hom rond. Kathy trek haar skouers op en leun oor na Daisy toe.

“Hei Daise, die personeel raak kriewelrig. Daar is vervoer gereël vir ‘n toer deur Kimberley en hulle wag nog net vir al die manne hier om te vertrek ... Ons moet gaan!”

Daisy maak geen aanstaltes nie. “Ok, guys. Apparently there is a guided tour of the open air museum. What would you rather do – historic sightseeing of a big hole or do we order another round before I deal?” Daisy gee almal om die tafel ‘n sprankelende glimlag en gooi haar lang blonde hare oor ‘n kalerige skouer.

Soos een man besluit die fuddy-duddies om die toer ‘n mis te gee. En by hierdie besluit bly hulle, selfs toe daar ‘n paar hoogs geïrriteerde vrouens by die salon inloop om hulle misnoeë aan hulle wederhelftes oor te dra.

After all,” sê die nyweraar met ‘n Texas teem, “when will we ever get the opportunity again to play poker with such an accomplished and gorgeous player while on a world-famous train in Africa? I’ll just get the wife a nice bauble at the diamond dealer that I am visiting later this week and she will quickly forget Kimberley, haw, haw, haw...

Die ander manne lag saam. Hulle ken al elke truuk in die boek om hulle vrouens te hanteer; klaarblyklik is dit nie te moeilik as jy baie geld het nie!

Kathy loer bekommerd in Daisy se rigting. Sy weet dat Daisy sterk gevoelens oor hierdie onderwerp het en dat sy nie bang is om haar opinie te lug nie. “Dis al wat nou nog nodig is,” dink Kathy. “Sy het nou klaar die spul vrouens opgeklits, nou moet sy nog net in ‘n argument met die mans betrokke raak, dan los hulle ons sweerlik vanaand net hier by die groot gat...”

Maar Daisy het ander planne. Sy is klaar verveeld met die poker.

Just because you are such a fun bunch and had let me win all this money, I would like to give you a true South African lesson. My friend Kathy and I would like to teach you a traditional song and dance!

Kathy staar oopmond na Daisy toe sy begin om die meubels weg te skuif. “Waarvan praat jy nou, Daisy? Gaan jy hulle ‘n les gee in gumboot dans en praat jy nou van Shoshaloza, of wat?”
Daisy lag uit haar maag uit. “Nee, Kathy. Wanneer laas het jy volkspele gedoen? Ons gaan vir hulle Afrikaners is plesierig leer. Miskien kan jy sommer by die kroegman uitvind of hulle nie Karen Zoid se weergawe het nie – dan kan ons sommer Suid-Afrikaanse musiek ook bevorder,” giggel Daisy.

Toe die toerbussies terugkom en die vrouens stywelip hulle mans kom opeis, word hulle summier ingetrek by die dansery. Daisy leer van voor af die lirieke vir die vrouens en lê soos sy lag vir die uitsprake. 

Dan speel die kroegman die Zoid weergawe en almal strek uit op die stoele met ‘n glasie ‘iets’ in die hand.

Kathy en Daisy meld aan vir aandete by die tweede sitting. Albei lyk soos iets uit die bladsye van ‘n glans modetydskrif. Toe hulle by die eetwa instap, begin almal hande klap. Daar is vriendelike glimlagte wat hulle verwelkom.

Baaibie es jyh nog leef for my,” sing die Texas aksent. Die nyweraar en sy vrou sit en hande vashou aan tafel. Sy vrou straal, sy lag vir haar man se lawwigheid en kyk diep in sy oë. 
Toe Daisy en Kathy by hulle tafel verbystap, sit sy haar fyn gemanikuurde hand op Daisy se arm.
It has been a long time since my husband and I had so much fun. I guess we rekindled some of the old magic on this Blue Train, thanks to you, Daisy. I won’t ever forget this train journey,” sê Mevrou Texas met ‘n stoute glinstering in haar oë.

“En dít, my liewe Kathy, is hoe mens ver­vlakste mans leer om hulle vrouens te vertroetel sonder die oëverblindery van geld,” sê Daisy toe hulle aansit vir ‘n gourmet ete. “Miskien kry sy nie ‘n nog ‘n diamant nie, maar sy is weer van voor af verlief op haar man!”

“Tussen my en jou Kathy – ek het soveel geld gewen dat ek gedink het daar is nie ‘n manier wat ons sommer so woeps met ‘n vliegtuig terug huistoe nie. Ek en jy gaan van die rail trippie na ‘n road trip – ons huur ‘n sexy kar en rý terug. Daar is heeltemal te veel avontuur wat vir ons wag – al daai klein dorpies en afdraaipaadjies... 

“Ons sal darem by die huis wees voor Kersfees.”
 
Genade, seëninge, oorvloed en liefde vir die Feesseisoen aan al die lesers!

 
 
 

Viewed: 231

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT