ADVERTISEMENT:

 

 
 

66. Daisy sukkel met muisneste en vars blomme

Date: 26 February 2015 By: News Correspondent

“Ou Barries, dit was darem vir jou ‘n paartie om nie gou te vergeet nie,” giggel Daisy toe sy vir Bernard ontbyt in die bed bring. “Hoe het jy hierdie hele verlowing beplan sonder dat ek dit agtergekom het? Gewoonlik mis ek mos niks nie!”

Bernard sug behaaglik. “Die beste deel van die paartie is dat dit nou verby is, my mooiste aanstaande vrou! Ek het tien jaar ouer geword, kyk net al die grys hare!” Maar sy hele gesig straal.

“My grootste vrees was dat jy vol geite gaan wees en die een of ander rede aanvoer hoekom jy nie met my kan trou nie. Mens weet mos nooit met jou nie!”

“En as dit enige ander man was, Bernard, sou ek seker ‘n rede gevind het. Maar jy maak dit alles so maklik. Maklik om jou lief te hê, maklik om saam met jou te wees, maklik om aan ‘n toekoms te werk saam met jou.” Dis min dat Daisy so ernstig is.

“Tot die obsene verloofring is vir my vreeslik mooi. Maar net vir high days en holidays, nê Bernard? G’n mens kan werk met so ‘n blink klip aan die hand nie! En daar is soveel werk, Slimjan. 

Niks minder as twee troues nie en dit moet September wees? Intussen moet die gastehuis ook klaar kom en al die klein jakkalsies uitgeroei wees voor ons hier kan trou...

“Het jy gesê die nuwe buurman is ‘n sjef en dat hy by die gastehuis gaan werk, of het ek my verbeel, Bernard?” onthou Daisy skielik weer. “Ek het hom nie gisteraand hier gesien nie...?”

“Hy wou hê dat sy kos namens hom praat gisteraand, Daise. En was dit nie uitsonderlik nie? Selfs die stoere T-bone-manne het hulle vingers afgelek; hulle kon eenvoudig nie genoeg kry van die kos nie en die vrouens het gedink dis mooier en beter as enigiets anders wat hulle al ooit hier of in die stad gesien het! Dis selde dat almal oor iets saamstem hier op Waterpoort, maar hierdie spul was deur die bank beïndruk.” 

“Right,” sê Daisy. Sy sit op haar iPad en werk. “Kos vir troue op Waterpoort, tiek. Nou is daar nog net drieduisend-vyfhonderd-en-elf dinge waarna ek moet omsien. Die ander ding waaroor ek met jou wil praat is blomme. Daar moet massas blomme wees, Bernard. Orals. Als wit. Maar ek het gewonder of ons nie grootste gedeelte daarvan sommer hier op die plaas kan groei nie?”

“Nee hel, Daisy! Hoe wil jy nou dit doen? In elk geval is dit heeltemal te warm ... Nee man, kom ons koop die blomme. Laat dit invlieg van Europa af. Duisende.” Bernard is skoon onthuts, maar hy herken die koppigheid as Daisy haar lippies dun maak.

“Daisy, asseblief. Jy het geen idee wat dit verg om blomme te kweek nie. Asof jy nie alreeds genoeg het om te doen nie! Ek sit my voet neer oor hierdie een!” maak hy sy stem dik.

“Wag nou, Bernard. Ek het myself seker nie duidelik genoeg uitgedruk nie. Ek wil nie ál die blomme groei nie – ek wil net ekstra blomme groei. Is daar nie een van jou nethuise oop op die oomblik nie? Onthou jy dat jy gesê het jy wil solank potplante groei vir die gastehuis se tuin? Dit sal mos nie baie meer moeite wees om ‘n paar ekstra te kweek vir die troue nie?” flikflooi Daisy.
Later bel Daisy vir Ousus vir ‘n goeie herkou  oor die vorige aand se verlowingspartytjie en die twee “royal weddings” – soos Ousus dit noem – wat moet gebeur.

“Ousus, ek en jy gaan shop. Volgende week vlieg ons saam met Bernard stad toe en dan gaan ons shop. Jy sal nie spyt wees nie – dis jou gunsteling goed wat ons gaan koop, en ek sal glad nie weet wat om te koop sonder jou advies nie.

“Wat gaan ons koop, vra jy? Plante, my sussie. Honderde en honderde plante wat vir ons spierwit blomme gaan gee vir die troue!”

 
 
 

Viewed: 164

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT